Pangebraaide Rump Steak Met Brandewyn Sampioensous

“Rump steak” is ‘n gunsteling vir my. Dit is baie geuriger as enige ander snit. “Rump steak” of kruisskyf in Afrikaans, word gesny uit die boonste deel van die bees se boud. As gevolg hiervan is dit ‘n spier wat baie werk en dus is rump steak gewoonlik van jou taaier snitte. Hiervoor maak die snit wel op in smaak en sekere dele het n lekker vetjie aan. Die geheim van kruisskyf is veroudering. As jou snit vakuum verpak is, kan jy hom maklik twee tot drie weke in die koudste deel van yskas los, maar maak ook seker jy koop kwaliteit vleis.

Voorbereiding tyd – 30 min

Kooktyd – 20 min

Bedien – 4 mense

Vir die steaks

4 x 250g 2 cm tot 2.5 cm dik steaks

2 eetlepels olyf olie

4 eetlepels botter

Sout en peper

1 Knoffelbol, gehalveer

4 stokkies vars tiemie, roosmaryn of salie (nie droë kruie nie, dit gaan brand)

Metode

Maak seker jou steaks is op kamer-temperatuur. Op ‘n snyplank, plaas jou steaks langsmekaar, en maak jou vleis droog met kombuispapier. As jou vleis droog is, sprinkel jy bietjie olyfolie op steaks. Vryf die olyfolie in die vleis in, en maak seker die olyfolie is beide kante van die vleis goed ingevryf. Sodra die olie ingesmeer is, sout en peper jy die steaks aan beide kante. Plaas die knoffel met die gesnyde kant op jou potysterpan, (platboom swartpot werk net so goed). Verhit oor medium hitte tot warm, water moet dadelik verdamp as daarop gesprinkel word en die knoffel donker bruin is. Maak nou seker jou “extractor” is aan. Probeer om nie olie in jou pan te gooi nie. Braai jou biefstuk 2-3 minute aan ‘n kant vir rare tot medium rare, en 4-5 minute vir medium. Baie belangrik is om die steaks te los en nie rond te skuif nie. Sodra jou jou 2 – 3 minute verby is voeg dan jou botter en kruie in jou pan en braai vir nog ‘n minuut tewyl jy die botter en kruie heeltyd oor vleis skep. Verwyder jou steaks van jou pan en rus dit op jou snyplank vir nog 2 -3 minute voor jy bedien.

Vir die sampioensous

500g gemengde sampioene (wit, portabello, shitakes, bruin) ‘n 1/3 fyn gekerf, ‘n 1/3 in blokkies gesny, 1/3 net gehalweer

2 uie, fyn gekerf

2 knoffel huisies, fyn gerasper

4 bees aftreksel sakkies (Woolworths of Ina Paarman)

½ koppie brandywyn

4 eetlepels botter

2 eetlepels meelblom

2 koppies room

1 teelepel vars tiemie

1 loerierblaar

4 eetlepels pietersielie, fyn gekap

Sout en peper

Metode

Smelt helfte van die botter in ‘n medium kastrol. Voeg nou jou uie, knoffel, tiemie en loerierblaar by. Braai die uie oor ‘n medium hitte vir 5 minute tot dit goudbruin is. Draai die hitte tot hoog, en voeg jou sampioene en die res van die botter by. Braai vir nog 5 minute, gooi nou die brandewyn by (versigtig oor gas, die kan opvlam as die alkohol afkook). Sodra die brandewyn amper verdamp het, verlaag die hitte en roer die aftreksel in. Sprinkel die meelblom eweredig in en roer goed. Meng nou jou room by. Bring tot kook en kook vir 2 minute. Geur na smaak met sout en peper. Meng laaste vars kruie by voor bedien.

Bedien steak met bietjie van die pan botter, knoffel, bros kruie en lekker tjips!

*Wenk: Haal jou vleis ‘n uur voordat jy dit gaan gaar maak uit die yskas. As jou steak kamer temperatuur is voor jy gaar maak, is dit makliker om medium rare steak voorteberei. Moet ook nie te lank voor jy vleis gaar maak sout nie, dit veroorsaak dat vleis droog kan word as gaarmaak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *