Your cart is currently empty!

Geelpap Met Boerewors, Tamatie, Spek en Kruie
Polenta is ‘n stapel in die Noordelike dele van Italië, hier word dit baie dieselfde gebruik word as mieliemeel. Polenta word gemaal van geelmielies maar is fyner as braaipap en growwer as gewone mieliemeel. Ek onthou dat as kind daar ‘n tekort aan wit-mielies was en ons moes geelpap in die oggende vir ontbyt geëet het, wat baie vreemd was vir ons. Geelpap het later jare vir my ‘n gunsteling geword en is steeds vir my lekkerder as wit mieliepap en ek gebruik dit gereeld.
Hier is een van my gunsteling en mees bevredigende disse om met geelpap te maak!
Voorbereidings tyd – 30 minute
Kooktyd – 60 minute
Bedien 4 – 6 mense
Bestandele vir die geelpap
1 koppie geelmeel (polenta), nie die kits-tipe nie
2 koppies kookwater
2 koppies melk
½ teelepel sout
½ teelepel vars tiemie of droë tiemie
‘n Knippie growwe swart peper
½ koppie gerasperde Boerenkaas
2 klontjies botter
½ teelepel sout
Metode
Voeg die kookwater, melk, kruie en sout eerste in ‘n middelslag swaarboompot. Bring die pot tot kookpunt. Sodra die water kook, meng jy die polenta stadig in met ‘n handklitser, om seker te maak dat daar nie klonte vorm nie. Draai die hitte tot laagste en plaas pot se deksel op. Kook vir 45 – 60 minute of tot gaar. Meng nou die kaas en botter by en voeg sout en peper by na smaak.
Vir die boerewors en tamatie
1kg dik boerewors, in 10 – 15 cm stukke gesny, opgerol in wieletjies en met ‘n stokkie of roosmaryn-takkie vas gesteek op die punt
2 blikkies groot tamaties, sonder skille
1 rooi soetrissie, klein blokkies gesny
½ knoffel huisie, fyn gekap of gerasper
1 wit ui, in fyn repies gesny
1 knippie brandrissie poeier
1 eetlepel tamatie pasta
2 eetlepels olyf olie
2 koppies water
3 eetlepels rooiwynasyn
2 eetlepels bruinsuiker
5 vars basiliekruid blare of ‘n knippie droë gemengde kruie
Sout en peper na smaak
Metode
In in swaarboompan, verhit 1 eetlepel olyf olie oor medium hitte. Braai die wors beide kante tot bruin, verwyder en plaas eenkant vir later gebruik.
In dieselfde pan, verhit die res van die olyf olie, en voeg dan die uie, knoffel, soet- en brandrissies by. Braai die uie en rissies oor lae hitte tot die uie goud bruin en gekarameliseerd is. Meng nou die tamatie pasta by en braai vir twee minute tot bruin. Voeg dan die res van bestandele by en bring tot kook. Kook vir 20min of tot sous lekker dik is. Voeg nou jou boerewors terug in die pan en kook vir 5 minute, of tot wors gaar is.
Vars kruie sous
¼ koppie vars sagte kruie (basiliekruid, vars koljander, pietersielie)
½ knoffelhuisie
¼ rooi ui
2 eetlepels rooiwyn asyn
2 eetlepels olyf olie
Skil van ½ suurlemoen
‘n Knippie Maldon sout
Metode
Voeg alle bestandele in n voedselverwerker en meng tot fyn. Voeg meer olyf olie by as verlang. Gooi sout en peper by na smaak. Stoor die kruie sous in die yskas tot benodig.
Bros spek
6 – 8 repies spek, sonder vel
4 eetlepel canola olie
Metode:
Sny die spek in klein eweredige blokkies. Voeg die spek en olie saam in ‘n koue pan en verhit oor medium hitte. Roer die spek gereeld. Braai die die spek vir 10 tot 15 minute tot lekker bros. Gooi die spek in ‘n vergiettes sodat vet kan afloop. Stoor die spek op kombuis papier tot gebruik.
Bedien boerewors stukkies oor geelpap, met genoeg tamatiesous, bros spek en bedruip met vars kruie sous en ekstra gerasperde kaas.
*Wenk: Die geelpap kan vir later gestoor word in yskas en met klein bietjie melk warm gemaak word en sal steeds net so lekker wee.
Leave a Reply