Gebakde Eiers in Chakalaka Met Vars Koljander en Amasi Plaaskaas
Chakalaka is ‘n Suid Afrikaanse smoor of sous wat gewoonlik saam met pap of vleis geniet word. Ek is besonders lief vir Chakalaka en gebruik dit gereeld op my spyskaarte vir funksies. Die smoor gee ‘n baie lekker aromatiese rissie byt aan geregte. Daar is verskillende maniere om die sous te maak, maar bestaan hoofsaaklik uit ‘n basis van tamatie, uie, rissie, fyn groente en speserye. Die smoor se oorsprong is waarskynlik van Mosambiekse Peri Peri af, maar Suid Afrikaners het dit waarlik ons eie gemaak.
Voorbereidingstyd 24 uur
Kooktyd – 30 minute
Bedien – 4 mense
Vir die Amasi plaaskaas
1-liter volroom Amasi
Sout en peper
‘n Kaasdoek of skoon vatdoek of blou kombuislappie
Metode
Gebruik en vergiettes of ‘n sif, en bedek dit met die kaasdoek. Maak seker dat daar nie ‘n area is waar die Amasi kan uitloop nie. Plaas die vergiettes in ‘n groot bak of oondpan, wat steeds in die yskas kan pas. Voeg nou die Amasi in die kaasdoek en plaas in die yskas, verkieslik oornag. Hoe langer die kaas staan hoe dikker sal dit word. Ek vind ‘n minimum van 12 ure word vereis.
Vir die Chakalaka
8 vrywei eiers
1 blikkie Chakalaka, mild and spicy
1 blikkie tamatie en uie smoor
1 blikkie heel geskilde tamatie
1 groenrissie, fyn gekap
1 wit ui, fyn gekap
1 knoffelhuisie, gerasper
1 teelepel rissieflokkies
1 eetlepel Kerrie poeier
1 eetlepel bruin suiker
4 eetlepels olyfolie
‘n hand vol vars koljander en pietersielie, gekap
Metode
Verhit ‘n swaarboompan met ‘n deksel, oor medium hitte tot warm. Voeg nou die olyfolie, uie, knoffel en groenrissie by. Braai die uie oor medium hitte tot uie bruin en lekker sag is. Voeg nou die speserye by, en braai vir 1 minuut tot aromaties. Voeg nou all die blikkies by, roer goed en draai dan die hitte tot laag.  Maak nou vier gaatjies in die tamatiesous, mooi in elke kwart van die pan. Breek nou 2 eiers in elke gaatjie, sprinkel sout en peper op die eiers en plaas deksel op. Kook die eiers vir 5 – 8 minute of tot eiers gaar genoeg is vir jou smaak. Ek verkies dat die eiergeel nog sag moet wees. Besprinkel met vars kruie en bedien op bros brood met ‘n lekker groot skep plaaskaas.
*Wenk: Maak ‘n groot hoeveelheid van die plaaskaas en vervang jou gekoopde maaskaas met dit. Amasi is dan nou MAAS in Afrikaans.
Leave a Reply